5 Dink julle miskien die Skrif is sommer vir spek en boontjies geskryf? Natuurlik nie. Luister dan na wat daar staan: God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal vir Homself hê.
6 God gee ook vir ons baie meer as wat ons nodig het om so te leef, sonder dat ons dit verdien.Ek verwys weer na wat die Skrif sê: “God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed - meer as wat hulle ooit verdien.”
7 Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan.
8 Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie.
9 Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees.
10 Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.
11 Liewe broers en susters, moenie lelik praat van mekaar nie. Iemand wat oor sy mede-Christen skinder of sê hy is sleg, maak eintlik God se wil sleg en praat teen die wet van God. As jy sê God se wil is sleg, doen jy mos nie wat God wil hê nie. Dan hou jy jou belangriker as sy wet.