7 Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen.
8 Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe.
9 Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom.
10 Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou.
11 Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is.
12 Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik. Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit. Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie.
13 Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat. As iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is.