12 Wanneer julle beurt kom om iets te sê, sal die Gees vir julle al die regte woorde gee wat julle moet sê.”
13 Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.”
14 “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord.
15 Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie.
16 Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het.
17 Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’
18 “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet.