46 Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het.
47 “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom.
48 Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.”
49 “My werk is om alles hier op aarde van hoek tot kant te kom verander. En hoe wens Ek nie dat dit al begin nie!
50 Net soos ’n reusevuur alles aan die brand steek, kom steek Ek die hele wêreld aan die brand. Daar lê egter eers ’n groot ‘vuurdoop’ vir My voor. Eers moet Ek baie swaarkry. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie.
51 “Dink julle almal gaan nou skielik in vrede met mekaar leef omdat Ek hier is? Nee, inteendeel. Van nou af gaan mense eers baklei.
52 Selfs in dieselfde huisgesin sal mense oor My verdeeld wees.