28 “Waarheen dink julle moet daardie mense dan gaan? Na die doderyk toe, natuurlik. En daar is dit een groot hartseerspul. Veral vir dié van julle wat onder die misverstand verkeer dat julle ’n plek gaan kry in God se nuwe wêreld. Weet julle hoe verskriklik dit gaan wees as julle al die groot name uit julle geskiedenis, vir Abraham en Isak en Jakob en die profete, daar in God se wêreld sien, maar julle self moet buite staan? Julle sal huil en skreeu van die pyn. Maar dan is dit natuurlik te laat.
29 Van oor die hele wêreld sal mense na God se nuwe wêreld toe stroom terwyl julle spul wat gedink het dat net julle daar gaan plek kry, dit nie sal maak nie.
30 “Uiteindelik sal al die rolle omkeer: mense wat nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar baie belangrik wees. Maar diegene wat nou belangrik is, sal geen plek in God se nuwe wêreld hê nie.”
31 Later daardie dag het ’n paar Fariseërs wat simpatiek teenoor Jesus gestaan het vir Hom kom sê: “U moet dadelik padgee. Ons het gehoor dat Herodes, die heerser oor Galilea, op u spoor is. Hy wil U doodmaak.”
32 Jesus sê toe: “Gaan sê julle vir daardie skelm dat Ek sal aanhou om siek mense gesond te maak en om duiwels uit te dryf. Ek sal dit vandag doen, en môre, en tot op die derde dag.
33 Maar intussen moet Ek voortgaan met my reis na Jerusalem. Die volgende drie dae moet Ek gebruik om daar uit te kom. Want sê nou Herodes doen wat hy sê, dan gaan Ek nog buitekant Jerusalem dood. En dit mag nie! God se plan is dat Ek daar in die stad moet doodgaan. Dit is nie reg dat sy boodskapper buite die stad sterf nie.
34 “Maar terwyl Ek oor Jerusalem praat. Vir julle almal wat daar bly, wag daar bitter swaar tye. Kyk net wat vang julle aan: julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood! Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek voel oor julle soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het klaar die rug vir My gedraai.