Lukas 14:22-29 DB

22 “Die helper is toe daar weg. Na ’n ruk kom hy met ’n groot klomp mense terug. Hy het vir sy werkgewer gaan sê: ‘Meneer, ek het gedoen wat u vir my gesê het om te doen. Hier is nou baie mense vir u feesmaal. Maar weet u, daar’s nog plek oor.’

23-24 “‘Nou ja, dan moet jy nog mense gaan soek,’ sê die huisheer. ‘Gaan keer almal voor wat met die hoofpad hier naby verbyry. Ja, en gaan ook daar na die winkelsentrum toe. Keer almal voor wat jy raakloop en smeek hulle om na my fees toe te kom. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie. Hou aan totdat hulle ja sê. Sleep hulle saam met jou hierheen terug as dit moet. My huis moet vol word. Maar daardie ander spul wat genooi is, sal nie hulle monde aan my kos sit nie.’”

25 Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het.

26 Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: “Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van my volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie.

27 As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg!“Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg.

28 “Kom Ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: As jy ’n huis wil bou, werk jy mos voor die tyd uit of jy genoeg geld het om dit alles te kan doen, nie waar nie?

29 Anders, as jy nie jou sommetjies behoorlik gemaak het nie, is jou geld dalk te min nadat jy die fondament gegooi het. En wat gebeur dan? Dan lag almal vir jou.