Lukas 14:9-15 DB

9 Dink net hoe skaam jy dan sal kry as die gasheer daar voor almal vir jou kom sê: ‘Verskoon tog, maar hierdie plekke is eintlik vir die eregaste bedoel. Soek vir jou ’n ander plek.’ Dan moet jy met ’n rooi gesig opstaan en op die slegste plek gaan sit.

10 “Gaan sit liewer daar agter tussen die ander mense as jy na ’n belangrike funksie toe genooi word. Kies doelbewus die swakste plek uit. Wie weet, dalk kom die gasheer na jou toe en sê: ‘Ag nee, vir wat sit jy hier agter? Daar voor is ’n baie beter plek. Kom sit daar by my.’ Dan sal almal wat saam met jou aan tafel sit, sê: ‘Sjoe, dat so ’n belangrike persoon so nederig is om hier tussen ons te sit!’

11 Onthou: nederige mense word op die ou end met eer bekroon en belangrike mense word verneder.”

12 Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die verpligting om jou vir ’n ete terug uit te nooi. En so gaan dit dan heeltyd aan.

13 Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie, en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is.

14 “As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit. Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ’n groot geskenk vir jou van God self.”

15 Een van die gaste wat saam met Jesus aan tafel was, sê toe: “Sjoe, wat ’n voorreg moet dit nie wees om eendag daar in God se nuwe wêreld ’n plek te kan kry nie!”