8 “Nog ’n voorbeeld: ’n vrou wat net ’n klein bietjie geld op haar naam het en dit dan iewers in haar huis laat lê, sal dadelik daarna begin soek. Sy sal die huis van hoek tot kant fynkam.
9 As sy die geld uiteindelik kry, is sy verskriklik bly. Dan nooi sy al haar vriendinne oor om saam met haar fees te vier: ‘Kom wees saam met my bly, want ek het my geld gekry wat weggeraak het.’
10 “Net so is daar groot vreugde in die hemel wanneer een sondaar terugkom op die regte pad. Dan vier al die engele voor God se troon fees.”
11 Toe vertel Jesus nog ’n verhaal: “Eendag was daar ’n man met twee seuns.
12 Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê. Ek wil nie wag tot Pa eers dood is nie.’“Die pa het sy goed verdeel en vir elke seun sy erfporsie gegee.
13 ’n Paar dae later het die jongste seun sy goed gevat en padgegee. Hy het in ’n ander land gaan bly. Daar het hy sy erfporsie uitgemors. Hy het die een wilde partytjie na die ander gehou en gedoen net wat sy hart begeer.
14 Kort voor lank was al sy geld op. Toe breek daar ’n groot hongersnood in die land uit sodat die jongman niks gehad het om te eet nie.