Lukas 17:20-26 DB

20 Die Fariseërs het op ’n dag vir Jesus gesê: “Kyk, jy praat so baie oor God se nuwe wêreld. Sê vir ons, wanneer gaan dit aanbreek?”

21 “Julle verstaan My heeltemal verkeerd,” het Jesus geantwoord. “Wanneer Ek vir julle sê dat God se nuwe wêreld hier is, bedoel Ek nie dat dit iets is wat julle met die blote oog kan sien nie. Mense kan byvoorbeeld nie sê: ‘God se nuwe wêreld is in daardie dorp’ of: ‘God se nuwe wêreld is hier in ons stad’ nie. Nee, God se nuwe wêreld is iets wat binne-in jou lewe gebeur. Wanneer jy aan my kant kom staan, verander jou lewe van binne af. Dan is jy ’n burger van God se nuwe wêreld.”

22 Toe draai Jesus na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Ek moet egter nog iets oor God se nuwe wêreld vir julle sê. Daar gaan wel ook ’n dag aanbreek wanneer almal hierdie nuwe wêreld met hulle eie oë sal sien. Dit is op dié dag wanneer Ek, die Seun van die mens, terugkom na hierdie wêreld toe. Maar totdat dit gebeur, wag daar swaar tye op julle. Baie dae sal julle bid dat die Seun tog moet terugkom, maar dit sal nie gebeur nie.

23 “Moet julle nie steur aan almal wat gedurig sommetjies maak oor wanneer die Seun gaan terugkom nie. As iemand julle probeer wysmaak dat hulle weet, lag hulle uit. As hulle sê: ‘Kom, die Messias is in die stad,’ vergeet dit. Of as hulle sê: ‘Hy is daar anderkant,’ moenie die moeite doen om te gaan kyk nie. Moenie ’n woord daarvan glo nie.

24 “Wees verseker: almal sal weet wanneer die Seun van God terugkom; almal. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en die hele hemelruim verlig. Dan kan jy ’n oomblik lank alles om jou sien. Wel, wanneer die Seun kom, sal almal Hom net so helder en duidelik sien.

25 Maar voordat dit alles gebeur, lê daar eers ’n baie moeilike tyd vir My voor. Eers moet die mense My verwerp en doodmaak.

26 “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel. Julle almal ken die verhaal van Noag. Wel, terwyl Noag die ark gebou het, het die ander mense om hom normaal aangegaan asof niks gebeur nie.