Lukas 17:22-28 DB

22 Toe draai Jesus na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Ek moet egter nog iets oor God se nuwe wêreld vir julle sê. Daar gaan wel ook ’n dag aanbreek wanneer almal hierdie nuwe wêreld met hulle eie oë sal sien. Dit is op dié dag wanneer Ek, die Seun van die mens, terugkom na hierdie wêreld toe. Maar totdat dit gebeur, wag daar swaar tye op julle. Baie dae sal julle bid dat die Seun tog moet terugkom, maar dit sal nie gebeur nie.

23 “Moet julle nie steur aan almal wat gedurig sommetjies maak oor wanneer die Seun gaan terugkom nie. As iemand julle probeer wysmaak dat hulle weet, lag hulle uit. As hulle sê: ‘Kom, die Messias is in die stad,’ vergeet dit. Of as hulle sê: ‘Hy is daar anderkant,’ moenie die moeite doen om te gaan kyk nie. Moenie ’n woord daarvan glo nie.

24 “Wees verseker: almal sal weet wanneer die Seun van God terugkom; almal. Julle het mos al gesien hoe die weerlig in die nag ver op die horison slaan en die hele hemelruim verlig. Dan kan jy ’n oomblik lank alles om jou sien. Wel, wanneer die Seun kom, sal almal Hom net so helder en duidelik sien.

25 Maar voordat dit alles gebeur, lê daar eers ’n baie moeilike tyd vir My voor. Eers moet die mense My verwerp en doodmaak.

26 “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel. Julle almal ken die verhaal van Noag. Wel, terwyl Noag die ark gebou het, het die ander mense om hom normaal aangegaan asof niks gebeur nie.

27 Al wat vir hulle saak gemaak het, was om elke dag te eet en te drink en om te wonder wie nou weer met wie getrou het. Toe klim Noag in die ark. Daarna het dit begin reën en reën. Uiteindelik het alles weggespoel. Ja, daar het niks oorgebly nie.

28 “Nog ’n voorbeeld: julle onthou mos nog vir Lot. In sy tyd het dit presies net so gegaan. Die mense het normaalweg met hulle lewens aangegaan. Hulle het besigheid gedoen, partytjies gehou, hulle lande bewerk en huise gebou.