17 God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies van hulle hemelse Vader afhanklik is. Weet julle, as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.”
18 Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?”
19 “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam.
20 En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.”
21 “Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man.
22 Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”
23 Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie.