33 Terwyl hulle hom losmaak, kom sy eienaars daar aan en sê: “Wat vang julle aan? Hoekom maak julle die donkie los?”
34 “Die Here het hom nodig,” het hulle geantwoord.
35 Hulle bring toe die donkie na Jesus toe. Daarna het die dissipels hulle klere gevat en ’n saal vir Hom gemaak waarop Hy kon sit.
36 Toe Jesus begin ry, het hulle hulle klere uit respek voor Hom in die pad neergesit.
37 Toe Jesus naby die lang afdraande kom wat van die Olyfberg af na Jerusalem toe loop, het ’n groot klomp van sy volgelinge begin om God hardop te loof en te prys. Hulle was baie bly oor al die groot dinge wat Hy gedoen het.
38 Hulle het Jesus soos ’n koning daar in Jerusalem verwelkom en hard uitgeroep: “Prys Hom wat as Koning in die Naam van die Here kom! Nou seëvier God se hemelse vrede. Al die eer kom die allerhoogste God toe.”
39 ’n Klompie Fariseërs wat ook in die skare was, was baie geskok oor hierdie woorde. Hulle sê toe: “Leermeester, hou jou dissipels in toom! Jy kan mos nie toelaat dat hulle sulke dinge oor jou sê nie!”