8 Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas.
9 Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik.
10 Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel:
11 vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.
12 Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!”
13 Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys:
14 “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”