34 “Staan reg vir daardie groot dag. Wees gereed. Moenie julle oorgee aan dronkpartytjies en allerhande vieslike sondes nie. Moet ook nie so besig raak met julle werk dat julle vergeet om te kyk hoe laat dit al op God se horlosie is nie. Dan gaan daardie dag julle heeltemal onkant betrap. Moenie soos baie ander mense op die laaste dag benoud begin rondhardloop omdat julle nie gereed is nie.
35 “Ek waarsku julle nou voor die tyd: kry julle lewe in orde. Vandag nog! Bid elke dag dat die Here julle sal oppas en julle sal help om reg te leef.
36 Dan sal julle vol vreugde voor die Seun van die mens gaan staan.”
37 In daardie tyd het Jesus elke dag na die tempel toe gegaan om met die mense te praat oor God se nuwe wêreld. In die aande het Hy op die Olyfberg net buitekant Jerusalem gaan slaap.
38 ’n Groot skare mense het al vroeg elke oggend na die tempel toe gestroom om te hoor wat Hy sê.