2 In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin.
3 Johannes het toe in die gebied rondom die Jordaanrivier begin preek. Hy het vir almal wat na hom toe gekom het, gesê dat hy mense doop wat nie langer in sonde wou leef nie. Hy het ook gesê dat God almal vergewe wat hulle sondige lewe die rug toekeer.
4 Johannes het presies gedoen wat die profeet Jesaja geskryf het:“Iemand roep hard in die woestyn: ‘Die Here is op pad! Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is.
5 Vul elke slaggat in die pad op. Kry elke bult en opdraande uit sy pad uit. Verwyder al die ompaaie. Sorg dat al die grondpaaie geteer is.
6 Dan sal almal God se verlossing kan sien.’”
7 ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel?
8 Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het.