7 ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel?
8 Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het.
9 “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.”
10 Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.”
11 Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.”
12 ’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?”
13 “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle.