32 Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde.
33 In die sinagoge was daar ’n man wat in die mag van ’n duiwel was. Toe hy naby Jesus kom, het die duiwel hom skielik hard laat skree:
34 “Wat het ons met Jou te doen, Jesus van Nasaret? Los ons uit! Dink Jy miskien dat Jy ons kan kom vernietig? Ek weet baie goed wie Jy is: Jy is daardie man wat van God af kom!”
35 Jesus het die duiwel dadelik stilgemaak: “Bly stil! Gee pad uit die man uit!”Die duiwel het die man toe op die grond neergegooi en padgegee. Gelukkig het hy nie seergekry nie.
36 Almal wat dit gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het onder mekaar begin praat en gesê: “Wie is hierdie man dat hy met ’n enkele woord sulke groot dinge kan laat gebeur? Hy sê net vir die duiwels om pad te gee, dan doen hulle dit!”
37 Kort voor lank was Jesus groot nuus. Almal in daardie omgewing het van Hom gehoor. Almal was aan die praat oor al die groot dinge wat Jesus doen.
38 Nadat Jesus uit die sinagoge gestap het, het Hy na Simon se huis toe gegaan. Daar aangekom, het Hy gehoor dat Simon se skoonma baie siek geword het. Sy het in die bed gelê, vuurwarm van die koors. Haar familie was baie bekommerd oor haar. “Kan U nie iets vir haar doen nie?” het hulle vir Jesus gevra.