38 Nadat Jesus uit die sinagoge gestap het, het Hy na Simon se huis toe gegaan. Daar aangekom, het Hy gehoor dat Simon se skoonma baie siek geword het. Sy het in die bed gelê, vuurwarm van die koors. Haar familie was baie bekommerd oor haar. “Kan U nie iets vir haar doen nie?” het hulle vir Jesus gevra.
39 Hy het toe by haar bed gaan staan en vir die koors gesê: “Gee pad uit haar liggaam uit. Nou dadelik!” Daar op die plek het Simon se skoonma gesond geword. Sy het dadelik uit die bed opgestaan en vir almal kos gemaak.
40 Toe dit aand word, het baie mense hulle siekes na Jesus toe gebring. Jesus het hulle een vir een aangeraak. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle almal gesond gemaak. Jesus het ook ’n hele klomp duiwels uit mense verdryf.
41 Wanneer hierdie duiwels die mense verlaat het, het hulle hard geskree: “U is die Seun van God, U is die Seun van God!” Maar Jesus het hulle beveel om stil te bly. Die bose magte het baie goed geweet dat Hy die Messias is, die Een wat deur God gestuur is om mense te kom verlos. Maar Jesus wou nie hê dat die duiwels moes sê wie Hy is nie. Hy wou dit self doen, op sy eie manier.
42 Die volgende oggend toe dit lig word, het Jesus na ’n verlate plek toe vertrek om ’n bietjie alleen te wees. Die skare het agtergekom dat Hy weg is. Hulle het oral in die omgewing na Hom begin soek. Uiteindelik het hulle Jesus opgespoor. ’n Groot klomp mense het op Hom toegesak. Jesus kon amper nie beweeg nie, so baie mense was daar.
43 Hy het vir hulle gesê: “Ek kan nie net vir julle preek nie. Ek moet die goeie nuus oor God se nuwe wêreld nog in baie ander plekke gaan bekendmaak. Dit is waarvoor God My gestuur het.”
44 Jesus het in die verskillende sinagoges van die Jode gepreek.