7 “Kom help ons. Maak gou!” het hy vir sy vriende in ’n ander boot daar naby hulle geskree. Later was albei bote vol vis. Hulle was so swaar gelaai dat hulle amper gesink het.
8 Simon Petrus was verslae oor wat gebeur het. Hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê: “Here, U kan nie langer by my bly nie, want ek is ’n groot sondaar.”
9 Petrus en almal saam met hom op die bote was verstom oor hierdie groot visvangs.
10 Ook Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was daardeur aangegryp.Jesus sê toe vir Petrus: “Moenie bang wees nie. Jou werk begin nou eers. Van nou af gaan jy mense vang. Jy sal maak dat baie mense in My glo.”
11 ’n Rukkie later, toe hulle die bote veilig vasgemeer het, het hierdie mans hulle bote net daar laat staan en volgelinge van Jesus geword.
12 In een van die dorpe in Galilea waar Jesus aangedoen het, was daar ’n melaatse. Melaatsheid was ’n velsiekte wat veroorsaak het dat mense eenkant moes gaan bly. Toe hy vir Jesus sien, het hy laag voor Hom op die grond gebuig. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees. Dan kan ek weer ’n gewone lewe lei; ek sal weer vriende hê en in die tempel kan gaan aanbid.”
13 Jesus sit toe sy hand op die melaatse en sê vir hom: “Ek wil dit graag doen. Word gesond. Nou dadelik!” Net daar het die velsiekte aan die man se lyf verdwyn. Sy vel was glad en skoon. Hy was heeltemal gesond.