28 “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.”
29 Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop.
30 Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop.
31 Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is.
32 Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles.
33 “Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’
34 “Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’