9 Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het.
10 Terwyl Jesus nog met die mense gestaan en praat het, het die werker skielik gesond geword. Toe die vriende van die offisier by sy huis aankom, was hy al weer vol lewe.
11 Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by.
12 Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood.
13 Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.”
14 Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!”
15 Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat.