10 Jesus sê toe vir hulle: “As julle mooi na al my verhale luister, sal julle sommer baie oor God leer. Dan sal julle agterkom hoe dinge in sy splinternuwe wêreld werk. Julle sal dinge hoor wat julle nog nie geweet het nie. Maar daardie mense wat nie wil luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld vertel nie, sal dit nooit verstaan nie. Vir hulle is my verhale maar net ’n klomp leë stories. Hulle kyk, maar sien nie. En hulle hoor, maar begryp niks nie.”
11 “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan: Die saad ... Dit is die boodskap oor God se nuwe wêreld.
12 “Die saad wat op die voetpad geval het ... Wel, dit is die mense wat na die boodskap oor God se nuwe wêreld luister, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Die duiwel sorg dat hulle baie gou vergeet wat hulle gehoor het sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Net soos die voëls met die saad gedoen het, kom ‘pik’ die duiwel die goeie saad uit hulle gedagtes uit.
13 “Daar het ook saad in die holtes van die groot klippe geval ... Wel, party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net vir ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle vra, sodra hulle moet nee sê vir die sonde, is hulle skielik nie meer so opgewonde nie. Dan is hulle sogenaamde nuwe geloof ook daarmee heen.
14 “Ander saad het tussen die doringbosse beland ... Dit is daardie mense wat God se woord aanvaar. Maar kort voor lank word die eise van hierdie wêreld vir hulle belangriker as hulle geloof. Bo en behalwe al hulle bekommernisse, kry die alewige gejaag na geld en plesier dan voorkeur in hulle lewens. Dan het hulle later niks meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Al hierdie dinge verdring hulle geloof uit hulle lewens uit.
15 “En dan die saad wat in die goeie grond geval het ... Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.”
16 Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan.