18 “Luister na dit wat julle oor God hoor, en gaan doen dit. Hoe meer julle doen wat God sê, hoe meer sal sy ongelooflike goedheid in julle lewens instroom. Aan die ander kant, as julle nie luister na wat God sê nie, sal julle lewens op die ou end in chaos eindig. Dit help nie julle dink julle saak met God is in orde net omdat julle allerlei godsdienstige dinge doen nie. As julle lewens nie heeltemal verander nie, gaan julle alles verloor wat julle dink julle het.”
19 Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar aankom. Hulle wou iets vir Hom sê. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie.
20 Iemand het hulle herken en gou vir Jesus gaan sê: “U ma en broers is daar buite. Hulle wil graag met U praat.”
21 Jesus sê toe: “Weet julle wie regtig my familie is? Almal wat luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld sê, en dit gaan doen. Hulle is my ma, my broers, my susters.”
22 Op ’n dag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan daar na die oorkant van die See van Galilea toe.” Hulle almal het toe in ’n boot geklim en na die oorkant toe begin vaar.
23 Jesus het rustig in die boot gaan lê en aan die slaap geraak. Later het ’n groot storm op die see opgesteek. Die wind het kwaai begin waai en die see het skielik baie onstuimig geword. Kort voor lank het groot golwe oor die boot geslaan sodat dit vol water begin word het. Later het die dissipels gedink die boot gaan sink.
24 Toe hulle rondkyk waar Jesus is, kom hulle agter Hy lê nog vas aan die slaap. Baie benoud het hulle Hom wakker geskud: “Here, Here, word wakker! Ons is besig om te vergaan en U lê en slaap! Kom help ons!”Jesus het opgestaan en vir die wind en die woeste golwe gesê: “Bedaar! Hou op met waai!” Hy het ook vir die water gesê om kalm te word. En toe, skielik, was alles oor. Die wind het bedaar en die see was weer spieëlglad. Alles was doodstil.