19 “Johannes die Doper,” het hulle dadelik geantwoord. “Of Elia. Ja, selfs een van die profete uit die ou dae wat weer lewendig geword het.”
20 “En julle?” vra Jesus vir hulle. “Wie sê julle is Ek?”Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Een wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Messias.”
21 “Julle mag dit vir niemand gaan vertel nie,” het Jesus gesê.
22 “Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.”
23 Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap.
24 As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe.
25 “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd.