52 Jesus het toe ’n paar van sy volgelinge vooruitgestuur om te sorg dat Hy oral langs die pad ’n plek het om oor te bly. Jesus se volgelinge het in ’n dorp in die gebied van die Samaritane aangekom om vir Jesus kos en slaapplek te reël.
53 Maar toe die inwoners hoor dat Hy op pad was Jerusalem toe, wou hulle niks met Hom te doen hê nie. Die Samaritane en die Israeliete het immers glad nie met mekaar oor die weg gekom nie.
54 Toe Jesus in dié Samaritaanse dorp aankom, het sy volgelinge vir Hom kom sê dat Hy nie daar welkom was nie. Jakobus en Johannes was op die plek woedend. “Here, sê net die woord, dan vra ons vir God om vuur uit die hemel te stuur om al hierdie mense te verbrand.”
55-56 “Wat? Hoekom wil julle so iets verskrikliks doen?” het Jesus vir hulle gesê. “Kom ons gee liewer pad. In ’n ander dorp sal ons wel ’n plek kry.”
57 Langs die pad het iemand vir Jesus gesê: “Here, ek is bereid om u volgeling te wees. Maak nie saak waar U gaan nie, ek sal by U bly.”
58 Toe sê Jesus vir hom: “Jy moet baie mooi dink wat jy sê, want Ek wat die Seun van die mens is, kan nie eens vanaand vir jou ’n ordentlike slaapplek aanbied nie. Selfs die voëls en die jakkalse in die veld is beter daaraan toe as Ek. Hulle het ten minste ’n blyplek van hulle eie.”
59 Jesus draai toe na een van die ander mense wat ook saam met Hom gestap het en sê vir hom: “Volg My!”Die man antwoord vinnig: “Ek doen dit graag, maar ek moet net eers gou my pa gaan begrawe.”