1 Toe ek weer sien, kom daar ’n engel uit die hemel. Dié engel was nou vir jou sterk. ’n Mens kon die engel nie so mooi sien nie, want hy het in ’n wolk gestaan met ’n reënboog bo-oor sy kop. Hy was sterk en getrou ook. As jy na sy gesig gekyk het, was dit net of ’n mens reg in die son inkyk. Sy bene het gelyk soos pilare van vuur.
2 In sy hand het hy ’n klein boekie gehou wat oop was. Hy gaan toe wydsbeen met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die land staan
3 en skreeu kliphard. Dit het geklink soos ’n leeu wat brul.
4 Hy het skaars geskreeu of sewe donderslae klap. Uit die hemel is daar gepraat! Met die donder wat so slaan, vat ek toe my pen. Ek wou neerskryf wat ek alles om my hoor. Net toe ek wou begin skryf, hoor ek iemand uit die hemel sê: “Moenie ’n woord neerskryf nie! Hou dit wat jy so deur die donder hoor, geheim.”
5 Die engel wat so wydsbeen op die land en die see staan, lig toe sy regterhand op.
6 Hy wys hemel toe en neem ’n eed. Hy roep toe vir God wat vir ewig en altyd leef en alles gemaak het - of dit die hemel met alles daarin, die aarde met alles daarop of die see met alles daarin is - as getuie in vir wat hy wil sê: “Daar is nie meer tyd oor nie.
7 Die oomblik dat die sewende engel op sy trompet blaas, gaan God doen wat Hy beloof het. Hy het mos lank terug vir die mense wat Hom dien, die profete, gesê wat Hy van plan is om te doen.”