3 en skreeu kliphard. Dit het geklink soos ’n leeu wat brul.
4 Hy het skaars geskreeu of sewe donderslae klap. Uit die hemel is daar gepraat! Met die donder wat so slaan, vat ek toe my pen. Ek wou neerskryf wat ek alles om my hoor. Net toe ek wou begin skryf, hoor ek iemand uit die hemel sê: “Moenie ’n woord neerskryf nie! Hou dit wat jy so deur die donder hoor, geheim.”
5 Die engel wat so wydsbeen op die land en die see staan, lig toe sy regterhand op.
6 Hy wys hemel toe en neem ’n eed. Hy roep toe vir God wat vir ewig en altyd leef en alles gemaak het - of dit die hemel met alles daarin, die aarde met alles daarop of die see met alles daarin is - as getuie in vir wat hy wil sê: “Daar is nie meer tyd oor nie.
7 Die oomblik dat die sewende engel op sy trompet blaas, gaan God doen wat Hy beloof het. Hy het mos lank terug vir die mense wat Hom dien, die profete, gesê wat Hy van plan is om te doen.”
8 Ek het toe weer dieselfde stem as netnou uit die hemel met my hoor praat: “Gaan vat daardie oop boekie uit die hand van die engel wat met die een voet op die see en die ander voet op die land staan.”
9 Ek stap toe nader na die engel toe: “Gee my asseblief die boekie,” vra ek.“Vat en eet dit,” sê die engel. “As jy dit eet, sal dit lekker wees, soet soos heuning. Maar dan sal jy vreeslik sooibrand daarvan kry.”