Openbaring 12:7-13 DB

7 Daar breek toe ’n oorlog in die hemel uit. Die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele pak toe die draak in ’n oorlog. Die draak en sy engele het hulle bes probeer, maar tevergeefs.

8 Hulle het liederlik verloor. Daar was toe nie meer vir hulle ’n plek in die hemel nie. Hulle is verbied om hulle voete daar te sit. So is die groot draak uit die hemel uitgesmyt.

9 Ek praat nou van die slang van wie ons lank terug al in die Bybel lees. Sy ander name is duiwel en Satan. Hy het al die mense wat op die aarde bly heeltemal op die verkeerde pad gelei. Juis hy is saam met sy engele uit die hemel gegooi.

10 Ek hoor toe iemand wat hard praat sodat almal dit kan hoor: “Nou het God ons gered. Nou het Hy sy krag bewys. Ons God heers oor almal en sy Messias het al die mag.“Kyk net, die een wat gedurig God se kinders oor hulle foute aangekla het, is uit die hemel uitgegooi. Ja, hy het God se mense mos sonder ophou, dag en nag, voor God beskuldig.

11 Hulle het hom behoorlik gewen. Hulle wapens was die bloed van die Lam en die boodskap wat hulle met soveel oortuiging aan ander vertel het. Alles het nie net vir hulle om hulleself gedraai nie. Hulle was bereid om tot die dood toe met hierdie wapens te veg.

12 Daarom moet almal wat in die hemel bly van blydskap oorloop. Maar, o genugtig, arme aarde en arme see! Julle gaan swaarkry! Weet julle hoekom? Die duiwel het na julle toe afgekom. Hy is buite homself van woede. Maar sy tydjie is min en hy weet dit!”

13 Toe die draak tot verhaal kom en agterkom dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou verwoed agternagesit. (Dit is die vrou wat die seun gehad het.)