Openbaring 14:14-20 DB

14 ’n Spierwit wolk vang toe my oog. Op die wolk het Iemand gesit. Dit het gelyk soos die Seun van die mens. Hy het die goue kroon op sy kop gehad wat net wenners dra. In sy hand het Hy ’n sekel gehou waarmee mense gewoonlik ryp lande afgeoes het.

15 Skielik het ’n ander engel sy opwagting gemaak. Die engel het uit die blyplek van God gekom en hard geskree vir die Man wat op die wolk sit om te hoor: “Steek u sekel in. Maak die oes bymekaar. Die oestyd is hier, want die oes op die aarde is ryp.”

16 (Natuurlik het die engel van die oordeel gepraat.)Die Man op die wolk maak toe so. Hy het sy sekel ingesteek en die hele aarde afgeoes.

17 En nog ’n engel het uit die blyplek van God in die hemel verskyn. Hy het ook so ’n skerp sekel gehad.

18 Skielik was daar nog een wat uit die rigting van God se altaar gekom het. Hy was in beheer van die vuur. Hy skree toe hard vir die engel met die sekel sodat almal kon hoor: “Steek jy ook jou sekel in! Sny die druiwetrosse van die wingerde op aarde af. Die druiwe is ryp.” (So begin die oordeel.)

19 Die engel het nie op hom laat wag nie en het op die aarde begin oes. Wat geoes is, is saam in ’n groot houer gegooi. In hierdie houer is die druiwe stukkend getrap.

20 Hierdie houer kan vergelyk word met die woede en straf van God oor die sonde. So vreeslik was dit dat dit nie in die stad waar die mense gebly het, gedoen is nie. Die bloed het oor die houer gestroom. Die stroom bloed was so diep dat dit tot by die middellyf van ’n man gekom het. Hierdie stroom bloed het 300 kilometer ver geloop.