8 Dit was skaars verby of ’n tweede engel was daar: “Dit is klaarpraat met Babilon, die stad vol sondige mense; ja, die grote Babilon is verby! Sy wou mos al die mense forseer om soos sy te leef asof God nie bestaan nie. So, sonder God, het hulle geleef soos mense wat hulle dronk drink.”
9 ’n Derde engel kom toe en skreeu net so hard: “As iemand die dier met sy standbeeld aanbid en die dier se merk op sy voorkop of hand dra, sal hy ’n ander soort wyn drink; die wyn van God se straf.
10 God se woede en ontevredenheid sal wees soos ’n glas wat vol wyn gegooi word. Die mense wat aan die dier behoort, sal dit dan moet drink, of hulle wil of nie! Dit sal wees soos iemand wat in ’n verskriklike warm vuur baie seer brand. Die engele en die Lam sal staan en kyk hoe dit gebeur.
11 Die vuur se rook sal wys hoe seer hierdie mense brand. En dit sal nooit einde kry nie. Die arme mense wat die dier aanbid en met hom gespog het deur sy merk te dra, gaan baie swaarkry. Hulle sal dag en nag die ondraaglikste pyn moet verduur.
12 “Die mense wat aan God behoort, moet net vasbyt. Hulle moet op die regte pad bly. Hulle moet gehoorsaam doen wat God van hulle verwag en aan Jesus Christus getrou bly.”
13 Toe hoor ek ’n stem uit die hemel: “Skryf! Die Here se mense wat van nou af doodgaan, is baie gelukkig. Sowaar! sê die Gees. Nou kan hulle ontspan en rustig wees. Hulle hoef nie meer hard te swoeg nie. Almal in die hemel weet hoe hulle met oorgawe vir God gewerk het toe hulle moes. God self weet dit baie goed.”
14 ’n Spierwit wolk vang toe my oog. Op die wolk het Iemand gesit. Dit het gelyk soos die Seun van die mens. Hy het die goue kroon op sy kop gehad wat net wenners dra. In sy hand het Hy ’n sekel gehou waarmee mense gewoonlik ryp lande afgeoes het.