1 Ek sien toe nog ’n ander teken in die hemel waaruit ons baie kan leer. Dit was ’n groot en asemrowende toneel. Ek het sewe engele gesien met sewe rampe. Dit is die laaste rampe wat die mense sal tref. Dit rond God se woede oor die sondes af.
2 Ek sien toe iets wat lyk soos ’n see van glas wat in vuur brand met ’n klomp mense wat langs die see staan. In hulle hande was musiekinstrumente van God. Dit was al die mense wat enduit volgehou het in die stryd teen die dier en sy beeld en die kodenommer van sy naam en wat uiteindelik gewen het.
3 Hulle het Moses se lied gesing. Moses het God mos gedien. Hierdie lied is ook die lied van die Lam: “Here God, die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan. Here, U is die sterkste en kragtigste van almal! Wat U doen, is altyd reg en regverdig. U doen dinge soos dit hoort. U heers oor al die mense van die wêreld en hulle sal dit moet erken.
4 “Here, wie sal U nie met groot agting en respek hanteer nie? Wie sal nie vir ander vertel hoe belangrik U regtig is nie? U en U alleen is soos U is: heilig. Al die mense sal na U toe stroom en U as God aanbid. Hulle kan nou sien dat wat U doen, regverdig is.”
5 Na hierdie pragtige lied het iets anders my aandag getrek. Daar was ’n tent in die hemel waarin God vroeër op ’n spesiale manier by sy mense was. Die tent se ingang het oopgegaan.
6 Daar het sewe engele uit die tent uitgestap met sewe rampe. Hulle het duur, mooi klere aangehad. Die klere was van suiwer, spierwit linne gemaak. Elkeen het ook ’n breë, goue gordel aangehad.