1 Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.”
2 Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het.
3 Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood.
4 Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander.