7 Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.”
8 Die vierde engel gooi toe sy bak op die son uit. Skielik het lang vuurtonge van die son die mense verskroei. Dit was geweldig warm.
9 Die mense het gevloek en God uitgeskel. Hy is mos die een wat hierdie dinge laat gebeur. Tog het hulle God nie begin dien nie. Hulle wou nie erken dat Hy regtig die belangrikste van almal is nie.
10 Toe kom die vyfde engel aan die beurt. Die inhoud van sy bak het op die troon van die dier beland. Oral waar hy invloed uitgeoefen het, het dit so donker geword dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Buite hulleself van pyn het die mense wat Satan dien hulle tonge gekou.
11 Hulle het die God van die hemel gevloek en sleggesê oor hulle pyn en hulle sere. Tog wou hulle nie ophou om verkeerde dinge te doen nie. Hulle wou nie reg begin lewe soos God dit wil hê nie.
12 Toe slaan die sesde engel toe. Sy bak se inhoud beland op die Eufraatrivier. Dit was ’n groot, magtige rivier, maar elke druppel water het opgedroog. Nou kon die konings uit die ooste sonder moeite deur die rivier kom.
13 Toe sien ek die duiwel, die draak, staan saam met die dier en dié een wat voorgee om almal van God te vertel, maar die hele tyd lieg. Hulle maak hulle monde oop, en daar kruip drie bose geeste uit. Hulle het net soos paddas gelyk.