1 Een van die sewe engele met die bakke kom praat toe met my: “Kom saam. Ek wil jou gaan wys hoe God die groot en belangrike stad Babilon met haar bose inwoners gaan straf. Ek praat van die stad wat haar rug vir God gedraai het soos ’n onsedelike vrou haar rug vir haar man draai. Dit is die stad wat oor baie water gebou is. In plaas daarvan om aan God getrou te wees,
2 het die stad na die belangrike leiers van die wêreld gevry. Dit het die mense oor die hele wêreld so bedwelm soos te veel wyn ’n mens bedwelm. Net soos die stad het hierdie mense ook nie belanggestel om God te dien nie. Hulle het eerder gedoen wat die stad wou hê.”
3 Die engel vat my toe die woestyn in. Ek was baie bewus van die Heilige Gees by my. Daar in die woestyn sien ek toe ’n beeld van die stad wat lyk soos ’n vrou. Sy het op ’n bloedrooi dier gesit. Die dier was oortrek met die vieslikste vloekwoorde wat God baie lelik beledig het. Die dier het sewe koppe gehad en tien horings. Hy het nogal in die oë van mense baie sterk gelyk.
4 Die vrou was in pers en rooi klere uitgedos. Sy het ook pragtige juwele gedra: dit was alles van goud, pêrels en ander duur edelstene. Geld en rykdom was al wat vir haar belangrik was. In haar hand het sy ’n goue beker vasgehou. Die beker was propvol van haar vieslikhede en vuil onsedelikheid. Vir God was dit walglik.