Openbaring 17:3-9 DB

3 Die engel vat my toe die woestyn in. Ek was baie bewus van die Heilige Gees by my. Daar in die woestyn sien ek toe ’n beeld van die stad wat lyk soos ’n vrou. Sy het op ’n bloedrooi dier gesit. Die dier was oortrek met die vieslikste vloekwoorde wat God baie lelik beledig het. Die dier het sewe koppe gehad en tien horings. Hy het nogal in die oë van mense baie sterk gelyk.

4 Die vrou was in pers en rooi klere uitgedos. Sy het ook pragtige juwele gedra: dit was alles van goud, pêrels en ander duur edelstene. Geld en rykdom was al wat vir haar belangrik was. In haar hand het sy ’n goue beker vasgehou. Die beker was propvol van haar vieslikhede en vuil onsedelikheid. Vir God was dit walglik.

5 Sy het ook ’n naam gehad wat op haar voorkop geskryf was. Dit het ’n geheime betekenis gehad. Daar het gestaan: “Babilon, die groot en beroemde stad. Die moeder van alle mense wat hulle rug vir God draai en hulle met die vieslikhede van hierdie wêreld besig hou.”

6 Ek het mooi gekyk en gesien dat die vrou dronk was. Ja, sy was dronk van al die bloed van God se mense en die mense wat doodgemaak is omdat hulle Jesus Christus gedien het. My mond het oopgehang toe ek haar sien. Ek kon my oë nie glo nie!

7 Die engel sê toe vir my: “Hoekom is jy so verbaas? Ek sal die geheim vertel van die vrou en die dier met die sewe koppe en tien horings wat haar dra.

8 Dit was in die verlede belangrik, maar nou is dit weg. In die toekoms sal dit weer uit die onderaardse diepte uitkom, net om totaal vernietig te word. Mense sal vreeslik beïndruk wees as hulle die dier sien, omdat hy in die verlede daar was, toe verdwyn het, maar skielik weer in die toekoms te voorskyn sal kom. Maar dit is nie waar van alle mense nie. Dit is net waar van mense wie se naam nie van die begin af in die boek van die ewige lewe geskrywe is nie.

9 “Om al hierdie dinge te verstaan moet ’n mens mooi dink. Kophou is die antwoord. Die sewe koppe van die dier stel die sewe heuwels voor waarop die vrou sit, met ander woorde, waarop die stad gebou is. Daar was ook sewe regeerders.