1 Toe dit alles verby was, sien ek ’n ander engel uit die hemel afkom. Dit was ’n baie sterk engel. Die aarde het sommerso geblink van die helder glans van die engel. Hy het ’n verskriklik harde stem gehad.
2 Hy skree toe: “Dit is verby met daardie belangrike stad Babilon. Sy word met die grond gelykgemaak. Dit het ’n spookdorp geword, vol demone. Oral het bose geeste hulle intrek geneem. Allerhande vieslike vlieënde goed het daar kom nes maak. Diere waarvan God niks hou nie, het daar opgedaag. Al hierdie goed is regtig vieslik en haatlik!
3 Al die mense van die aarde kon nie genoeg kry van haar verraad teen God nie. Hulle het dit soos wyn opgeslurp. Die regeerders, wat hulle mense moes lei, het die stad eerder gedien as vir God. Die sakemanne het miljoene gemaak uit haar lewe vol vieslikhede.”
4 Net toe hoor ek iemand anders uit die hemel praat: “My volk, sorg dat julle uit die stad wegkom; gee pad, sodat julle nie met al daardie slegte dinge deurmekaarraak nie. Ja, gee pad sodat al haar rampe julle nie ook tref nie.
5 Sy het so baie verkeerde dinge gedoen. As jy dit op mekaar pak, sal die hoop so hoog soos die hemel wees. So iets sal God nooit vergeet nie! Hy onthou elke verkeerde ding wat sy gedoen het.
6 Maak met haar wat sy met julle gemaak het. Betaal haar dubbel en dwars terug vir wat sy aan julle gedoen het. As sy julle met een hou geslaan het, slaan haar dubbel so hard terug.
7 Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’