19 Om te wys hoe hartseer hulle regtig was, het hulle stof oor hulle gegooi. So deur die trane en snikke het hulle gesê: “Hoe ellendig, hoe verskriklik is dit tog nie! Kyk na die magtige stad. Almal wat skepe op die see gehad het, het skatryk geword. Daarvoor het sy gesorg. En nou, met een veeg van sy hand, het God ’n einde aan alles gemaak.”
20 In die hemel moet almal bly wees oor wat met die stad gebeur. Al God se mense, die mense wat Hy uitgestuur het om vir Hom te werk, hulle wat sy Woord moet verkondig, moet net so bly wees. God het haar immers gestraf oor wat sy aan hulle gedoen het.
21 Daar kom toe ’n engel wat baie sterk was. Hy vat ’n groot rots en gooi dit in die see. Hy kondig toe aan: “So, soos hierdie rots, sal die groot stad Babilon met mening neergegooi word. Soos die rots sal dit vir ewig verdwyn.
22 Daar sal net mooi niks oorbly nie, nie eens een musiekinstrument nie; nie eens ’n enkele ding wat iemand maak of bou nie; nie ’n korreltjie meel nie; ja, niks nie!
23 Daar sal nie ’n lampie oorbly om iewers sy dowwe liggie te gooi nie, wat nog te sê van die vrolike gesels van twee pasgetroudes.
24 Net mooi niks sal oorbly van Babilon nie, en sy was eens die een wat met al die belangrikste en rykste besigheidsmanne in die wêreld gespog het! Sy kon mense van oral af deur haar oëverblindery om die bos lei. Dit was ook die einste stad waarin die kinders van God en sy boodskappers doodgemaak is, ja, vermoor is!”