Openbaring 18:3-9 DB

3 Al die mense van die aarde kon nie genoeg kry van haar verraad teen God nie. Hulle het dit soos wyn opgeslurp. Die regeerders, wat hulle mense moes lei, het die stad eerder gedien as vir God. Die sakemanne het miljoene gemaak uit haar lewe vol vieslikhede.”

4 Net toe hoor ek iemand anders uit die hemel praat: “My volk, sorg dat julle uit die stad wegkom; gee pad, sodat julle nie met al daardie slegte dinge deurmekaarraak nie. Ja, gee pad sodat al haar rampe julle nie ook tref nie.

5 Sy het so baie verkeerde dinge gedoen. As jy dit op mekaar pak, sal die hoop so hoog soos die hemel wees. So iets sal God nooit vergeet nie! Hy onthou elke verkeerde ding wat sy gedoen het.

6 Maak met haar wat sy met julle gemaak het. Betaal haar dubbel en dwars terug vir wat sy aan julle gedoen het. As sy julle met een hou geslaan het, slaan haar dubbel so hard terug.

7 Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’

8 Ja-nee, sy het daarna gesoek! Die rampe wat haar gaan tref, gaan haar op een dag saam tref. Sy gaan baie hartseer wees, sy gaan niks hê om te eet nie en die dood gaan sy wrede greep op haar kry. Sy sal met vuur tot op die grond afgebrand word. Ja, dit alles sal gebeur, want God is die Sterke. Hy is die Here. Hy is die Een wat sê wat met die stad gaan gebeur.”

9 Die regeerders van hierdie wêreld sal bitterlik oor haar huil as hulle die wolke rook sien wat uit die brandende stad opborrel. Hulle het mos saam met die stad geleef asof God nie daar is nie. Ja, saam met haar het hulle vieslik geleef.