Openbaring 19:15-21 DB

15 Uit die Ruiter se mond het daar ’n vlymskerp swaard gekom. Dit is sy wapen waarmee Hy mense beveg en oorwin. Hy regeer hulle met ’n ysterhand. Hy sorg vir oordeel en straf. Soos iemand wat druiwekorrels stukkend trap, so sal Hy die woede en straf van die almagtige God oor mense laat losbars.

16 Kyk op sy klere en op sy hemp, daar staan sy Naam geskryf: Hy is die Heerser oor almal wat heers; die Heer oor almal wat heer genoem word.

17 My oog val toe op ’n engel wat so helder soos die son is. Hy het oorverdowend hard geskree. Hy het al die voëls geroep wat tussen die bome en wolke rondvlieg: “Kom hier!

18 Kom saam vir die groot ete wat God vir julle voorberei! Kom vier fees op die liggame van regeerders, soldate, mense wat eers baie invloed gehad het. Ja, kom vreet die vleis van ruiters en perde. Of dit nou slawe of vry mense is, klein of groot, kom hou fees op hulle liggame.”

19 Ek sien toe die dier en al die regeerders van hierdie wêreld met hulle soldate saamtrek. Hulle het hulle reggemaak om teen die Ruiter op die perd en sy soldate te veg.

20 Die dier is toe gevang, hy en die een wat voorgee om oor God te praat, maar die hele tyd net lieg. Dit is die een wat al die wonderlike dinge saam met die dier gedoen en mense heeltemal mislei het.

21 Ek praat van al daardie mense wat die merk van die dier op hulle laat maak en wat sy standbeeld aanbid het. Hierdie twee diere is net so lewendig in die see van vlamme gegooi. Die tonge van vuur was met swael gemeng. Die res is afgemaai met die swaard wat uit die mond van die Ruiter kom. Al die voëls het gekom en op hulle vleis geaas.