1 Skryf aan die leier van die gemeente in Efese die volgende: Dit is die Een wat die sewe leiers soos sterre in sy regterhand hou wat met julle praat. Ja, dit is Hy, Jesus, wat gedurig by sy sewe gemeentes, die sewe goue kandelare, is.
2 Ek weet wat julle doen. Ek sien hoe julle alles ter wille van die evangelie doen en weier om moed op te gee. Ek sien dat julle slegte mense nie voor julle oë kan verdra nie. Julle glo ook nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat voorgee dat hy God se boodskap preek nie. Ek weet julle het al ’n klomp van hulle vasgetrek wat voorgegee het om “groot predikers” te wees, maar van die kansel af staan en lieg. Mooi so! Ek herhaal: Ek kyk julle sterk eienskappe nie mis nie.
3 Ek sien hoe julle vasbyt wanneer dit swaar gaan. Julle hou maar net aan en aan, omdat julle dit graag vir My wil doen. Julle word nie moeg daarvan nie.
4 Maar daar is een ding wat My baie ongelukkig maak en wat Ek nie kan oorsien nie. Julle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor My soos julle eers was nie.