17 Maak oop julle ore. Luister mooi na wat die Heilige Gees vir julle sê. Wie die wenpaal haal, sal beloon word. Ek sal vir hom gee van die hemelse brood wat weggesteek is. Ek sal ook vir hom ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie.
18 Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Tiatira: Dit is ’n boodskap van die Seun van God af. Sy gloeiende oë kyk niks mis nie. Sy voete is van pragtige brons.
19 Ek weet presies wat julle doen. Noem maar op: julle het mekaar lief; julle geloof is sterk; julle help mense wat julle hulp nodig het; julle gee nie sommer moed op nie. En wat hierdie dinge betref, gaan dit elke dag net beter met julle.
20 Maar daar is iets waarvan Ek nie hou nie en waaroor Ek julle kwalik neem. Julle laat daardie vrou Isebel toe om te doen wat sy wil. Sy noem haarself mos iemand wat God se boodskap verkondig. Al wat sy doen, is om die mense wat My dien te mislei om verkeerde dinge aan te vang. Sy leer hulle om afgode te dien. Daar neem hulle aan onsedelike feeste deel en hulle sit sommer saam met die afgode aan tafel ook.
21 Ek het haar oorgenoeg kans gegee om van die verkeerde pad af om te draai, maar sy wou nie. Sy vaar maar voort in haar onsedelikheid. Kyk nou mooi.
22-23 Ek gaan haar met ’n siekbed straf. En almal wat saam met haar so onsedelik geleef het, sal bitter swaarkry. Daarvoor sal Ek sorg. Dit is hulle voorland, behalwe as hulle heeltemal ’n omkeer in hulle lewe maak en My weer voluit begin dien. Ek sal elkeen uitwis wat haar slegte voorbeeld volg. Elke kerklidmaat sal dan besef dat mense My nie om die bos kan lei nie. Nee, niemand kan iets vir My wegsteek nie. Ek weet wat elkeen dink en wat hier diep binne hom aangaan. Onthou dit maar: elke gelowige sal van My kry wat hy volgens sy optrede verdien.
24 Daar is ook nog ’n klomp ander gelowiges in Tiatira. Hulle steur hulle nie aan die verkeerde dinge wat Isebel se mense kwytraak nie. Om die waarheid te sê, hulle het nie eens moeite gedoen om agter te kom wat die sogenaamde “diep kennis” is waaroor hierdie mense so te kere gaan nie. Dit kom buitendien van Satan af. Vir hulle wil Ek dit nie met ekstra versoeke swaarder maak as wat dit reeds is nie.