Openbaring 20:3-9 DB

3 Toe boender die engel hom in die onderaardse diepte in en maak die ingang deeglik toe sodat niemand dit oop of toe kan maak nie. So sal dit 1 000 jaar lank bly. Die volle 1 000 jaar sal die draak nie meer die mense op die verkeerde pad kan lei nie. As die 1 000 jaar verby is, moet die draak ’n klein rukkie weer losgelaat word.

4 Toe ek kyk, sien ek ’n klomp trone. Op die trone was mense vir wie God gesê het dat hulle maar namens Hom oor sondaars kan oordeel. Ek het ook die siele gesien van elke mens wie se kop afgekap is omdat hy met oortuiging oor Jesus en die boodskap van God gepraat het. Hulle het geweier om die dier of sy beeld soos God te aanbid. Hulle het ook nie die dier se teken op hulle voorkoppe of hande laat maak nie. Hulle almal het lewendig geword. Die volle 1 000 jaar het hulle saam met Jesus geheers.

5 Dit is die eerste opstanding. Die res van die mense wat dood is, het eers na die 1 000 jaar lewendig geword.

6 Hierdie mense wat so opstaan, is baie gelukkig. Hulle is God s’n. Die tweede dood sal hulle nie kan beetkry nie. Hulle sal vir ewig leef en God en Christus dien met alles wat hulle het. Saam met Jesus sal hulle 1 000 jaar lank oor alles heers.

7 Wanneer die 1 000 jaar verby is, sal God Satan uit sy tronk laat kom.

8 Satan sal skaars uit die tronk wees of hy sal al die mense, oor die hele wêreld, begin mislei. Hy sal hulle - dit is die Gog en die Magog - ompraat om saam te kom vir oorlog.

9 Daar sal miljoene van hulle wees, so baie soos die sand van die see. Hulle sal oor ’n wye gebied optrek en die woonplek van God se mense, asook die stad wat God liefhet, omsingel. Maar daar sal vuur uit die hemel op hulle neerbrand en hulle verbrand.