5 Dit is die eerste opstanding. Die res van die mense wat dood is, het eers na die 1 000 jaar lewendig geword.
6 Hierdie mense wat so opstaan, is baie gelukkig. Hulle is God s’n. Die tweede dood sal hulle nie kan beetkry nie. Hulle sal vir ewig leef en God en Christus dien met alles wat hulle het. Saam met Jesus sal hulle 1 000 jaar lank oor alles heers.
7 Wanneer die 1 000 jaar verby is, sal God Satan uit sy tronk laat kom.
8 Satan sal skaars uit die tronk wees of hy sal al die mense, oor die hele wêreld, begin mislei. Hy sal hulle - dit is die Gog en die Magog - ompraat om saam te kom vir oorlog.
9 Daar sal miljoene van hulle wees, so baie soos die sand van die see. Hulle sal oor ’n wye gebied optrek en die woonplek van God se mense, asook die stad wat God liefhet, omsingel. Maar daar sal vuur uit die hemel op hulle neerbrand en hulle verbrand.
10 Die duiwel wat hulle so mislei het, sal in die see van vlamme en swael gegooi word. Dit is waar die dier en die vals profeet ook is. Dié drie sal daar dag en nag, sonder ophou, van die pyn krul.
11 Voor my oë het ek ’n groot, wit troon sien staan. Ek het Iemand op die troon sien sit. Die hemel en die aarde het voor Hom probeer wegkom, maar daar was nie ’n plek waar hulle kon wegkruip nie. Toe sien ek iets anders.