22 Ek het gekyk, maar geen tempel in die stad gesien nie. Dit was nie meer nodig nie, want die Here God, die Een wat die sterkste van almal is en alles kan doen, was in die stad. Met Hom en die Lam daar was ’n tempel onnodig.
23 Daar was ook nie meer ’n son of maan nodig om lig te gee nie. Die grootheid en heerlikheid van God self het die stad verlig. Ja, die Lam was soos ’n helder lig in die stad.
24 Al die mense van die wêreld sal in die lig kan kom leef. Die leiers en heersers van die wêreld sal kom en so wys hoe groot en belangrik die stad regtig is.
25 Die poorte sal nooit toegemaak word nie. Of anders gestel: dit sal die hele dag lank oop bly. Omdat God se lig daar is, word dit nooit nag nie. Niemand buite die stad sal geëer word nie.
26 Almal wat roem of eer werd is, sal na die stad toe kom. Wat die moeite werd is om te eer, sal ’n mens in die stad kry.
27 Niks waarvan God nie hou nie, sal in die stad toegelaat word nie. Mense wat hulle vieslik gedra, lieg en bedrieg, sal nie welkom wees nie. Net mense wie se name in die Lam se boek geskryf is, sal toegelaat word. Dit is die boek waarin almal wat vir ewig saam met God gaan leef, se naam geskryf staan.