9 Een van die sewe engele kom toe nader (dit was een van die engele wat een van die sewe bakke met die laaste plae oor die aarde uitgegooi het).
10 Hy sê vir my: “Kom, ek wil vir jou die bruid wys, die vrou met wie die Lam gaan trou.” Hy vat my toe in die gees na ’n massiewe, hoë berg toe. Daar wys hy my dit toe: die stad wat God s’n is,
11 Jerusalem, daal voor my oë van die hemel af ondertoe. Dit kom van God self af, en dit kon ’n mens aan die stad self sien. Dit was so oorweldigend en wonderlik! Dit het geskitter soos die wonderlikste edelsteen, helder soos ’n diamant.
12 Rondom die stad was ’n hoë, dik muur.
13 Daar was twaalf poorte in die stad, drie na elke windrigting se kant toe. By elke poort het ’n engel gestaan.
14 Die twaalf name van die stamme van Israel is op die poorte aangebring. Die dik stadsmuur is op twaalf fondamente gebou, met die name van die twaalf apostels van die Lam daarop.
15 Die engel wat met my gepraat het, het ook ’n goue liniaal gehad. Dit was om die stad noukeurig op te meet; ja, die hele stad met sy poorte en mure.