Openbaring 4:1-6 DB

1 Ek kyk toe op en wat sien ek daar? Soos dit vir my gelyk het, was daar aan die blou koepel van die hemel ’n deur wat oopgestaan het. Ek hoor toe Iemand met my praat. Dit was dieselfde stem wat ek die heel eerste keer gehoor het. Dit was mos so hard soos ’n trompet wat in my oor geblaas word. Hy sê toe vir my: “Kom op hierheen. Dan sal Ek jou wys hoe alles van hier af gaan gebeur.”

2 Die Heilige Gees het met my laat gebeur wat die stem gevra het. Ek is deur die deur in die hemel in. Daar, in die hemel, het ’n troon gestaan. Iemand, God self, het op die troon gesit.

3 Toe ek na Hom kyk, was dit of ek na edelgesteentes kyk wat wit en rooi lig weerkaats. Dit het my daaraan laat dink hoe groot God is, maar ook laat besef dat Hy goddeloses gaan oordeel. ’n Pragtige reënboog het ook God se troon omraam. Dit het geskitter soos ’n groen edelsteen. Dit het my laat besef dat God wat op die troon sit, altyd getrou is.

4 Rondom hierdie groot troon in die middel het daar nog 24 trone gestaan. Op elkeen van hierdie trone het ’n leier van die kerk gesit, 24 van hulle. Hulle het duur, wit klere aangehad en soos konings het elkeen met ’n goue kroon op sy kop gesit. Hulle het saam met God geheers.

5 Blitse het geslaan en die donder het uit die rigting van die troon gerommel. Die Gees van God het voor God se troon gestaan, gereed om sy werk te gaan doen. Dit het kompleet gelyk soos ’n klomp helder ligte wat gelyk brand.

6 Voor die troon was dit of daar ’n see van glas was, glad en stil. Dit het my laat besef dat niks van Satan se bose onrustigheid God se kalmte ooit sal kan versteur nie. Aan elkeen van die vier kante van die troon het ’n lewende wese gestaan. Hulle het baie besonders gelyk. Hulle het niks misgekyk nie, want hulle was oortrek van die oë.