7 Die eerste een het soos ’n leeu gelyk en die tweede een soos ’n os. Die derde een het ’n gesig soos ’n mens s’n gehad en die vierde een het gelyk soos ’n arend wat vlieg.Hierdie vier wesens het die skepping verteenwoordig: die arend het die vlieënde diere, die leeu die wilde diere en die os die mak diere verteenwoordig en die een met die gesig van ’n mens het al die mense verteenwoordig.
8 Elkeen van die vier diere het ook ses vlerke gehad. Niks in die skepping was dus buite hulle bereik nie, want met hulle vlerke kon hulle oral vlieg. Die vlerke was ook oortrek met oë wat alles sien. Dag en nag, sonder ophou, het hulle bly sê: “Heilig, heilig, heilig is God die Here, die Een wat mag oor alles het. Hy was nog altyd daar, Hy is nou steeds by ons, en Hy sal in die toekoms nog altyd by ons wees.”
9 Die vier lewende wesens maak geen geheim daarvan hoe groot God is nie. Hulle basuin oral uit hoe belangrik Hy is. Hy is daar en leef vir ewig en altyd. Hulle hou nie op om vir God wat op sy troon sit vir alles en nogmaals alles dankie te sê nie.
10 Wanneer die 24 leiers van die kerk dit hoor, val hulle uit eerbied voor God neer wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en altyd leef. Hulle sit die krone voor God neer om te wys dat Hy die enigste werklike heerser is. Dan sê hulle in ’n koor:
11 “Here, ons God, wie kan so belangrik wees soos U? Na U sien almal op; U is sterker as die sterkstes. En dit is ook reg so, want dit is hoe U is. Ja, U het alles gemaak. Alles in die skepping is daar omdat U dit so wou gehad het.”