5 Toe die Lam die derde seël breek, hoor ek die derde lewende wese sê: “Kom!” Ek het weer rondgekyk. Soos verwag kon word, het daar weer ’n perd aangekom. Dié perd was swart. Die ruiter het ’n skaal vasgehou waarmee kos geweeg is.
6 Ek hoor toe iemand uit die rigting van die vier lewende wesens sê: “’n Ou handjie vol meel vir ’n hele dag se werk of drie hande vol perdekos. Die duur kos soos olie en wyn sal julle nie kan bekostig nie; net die rykes sal!”
7 Met die oopmaak van die vierde seël hoor ek die vierde lewende wese sê: “Kom!”
8 Hierdie keer het ek ’n perd met so ’n vaal doodskleur aangehardloop sien kom. Die ruiter se naam was “Die Dood”. In sy spore het die hel gevolg. Hy is toegelaat om ’n kwart van die aarde onder sy mag te kry. Daar was dit net moord en doodslag. Wie nie met swaarde doodgekap is nie, is van honger dood. Wie nog oorgebly het, is deur verskriklike siektes afgemaai of deur wilde diere verskeur.
9 Die Lam breek toe die vyfde seël oop. Ek het ’n altaar gesien. Daar het mense spesiale geskenke vir God kom gee. Onder die altaar was die siele van mense wat met swaarde doodgekap is. En hoekom is hulle doodgemaak? Omdat hulle aan die boodskap van God vasgehou het en nie bang was om met oortuiging daaroor te praat nie.
10 Hulle het hard geskree sodat almal kon hoor: “O, hoe lank nog, grote Heerser? U is anders as mense en U is die bron van alle waarheid. Wanneer gaan U die mense straf wat so sleg lewe? Wanneer gaan U hulle laat betaal omdat hulle ons doodgemaak het?”
11 God gee toe vir elkeen van hulle die duurste en pragtigste wit klere; klere wat ’n mens vir ’n belangrike geleentheid nodig het. “Wees nog ’n rukkie rustig,” sê God. “Moenie oorhaastig wees nie. Al julle mede-Christene wat God met soveel oortuiging saam met julle dien, is nog nie hier nie. Hulle moet nog eers soos julle vir God sterf.”