1 Dit was skaars verby of ek sien vier engele. Elkeen het in ’n ander windrigting gestaan. Hulle moes vir God die waai van die winde beheer. Vir eers het hulle die wind teruggehou. Daar het nie ’n luggie getrek of ’n blaartjie geroer nie.
2 Toe sien ek nog ’n engel. Die engel het aangekom uit die rigting waar die son altyd opkom. In sy hand het die engel iets gehad om mense mee te merk wat aan die lewende God behoort. Die engel skree toe vir die ander vier engele sodat hulle duidelik kon hoor:
3 “Wag so ’n bietjie. Moenie dat die wind nou al verwoesting saai oor die aarde en die see en die bome omwaai nie. Laat ons eers die mense merk wat God dien. Ons moet die merk van God wat wys dat hulle sy eiendom is, op hulle voorkop sit.”
4-8 Ek het gehoor hoeveel mense daar was wat gemerk moes word. Daar was 144 000. Hulle het uit elke stam van Israel gekom: 12 000 uit elk van die volgende stamme: Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin.
9 Daarna het ek ’n vreeslike klomp mense gesien. Hulle was so baie, ’n mens kon hulle nie eens tel nie. Hulle het van oral af gekom, maak nie saak waar hulle gebly of watter taal hulle gepraat het nie, hulle was daar voor God se troon en voor die Lam. Hulle was pragtig aangetrek en het baie deftig gelyk met hulle wit klere. Om te wys hoe vol vreugde hulle is, het hulle palmtakke rondgeswaai.