1 Die vyfde engel se trompet weerklink toe. Juis toe val my oog op iemand wat soos ’n ster van bo af op die aarde afkom.
2 Hy het die sleutel gekry wat die ingang na die onder-aardse dieptes oop- en toesluit. Toe hy die ingang oopsluit, borrel daar ’n digte rookmassa uit hierdie onderaardse diepte uit.
3 Die rookmassa was so dik dat die lug heeltemal swart geword het, sodat ’n mens nie eens die son kon sien nie. Uit hierdie wolke rook kruip daar toe sprinkane uit, die wêreld vol! Aan die sprinkane is buitengewone mag gegee. Hulle was gevaarlik soos skerpioene.
4 Daar is mooi vir hulle gesê wat hulle moes doen. Die plante, bome en gras moes hulle met rus laat, maar die mense moes hulle tref, hoewel nie almal nie. Daardie mense wat die merk van God op hulle voorkop gehad het, was veilig, maar die mense sonder daardie merk moes deurloop.
5 Die sprinkane moes nie die mense doodmaak nie, maar net vyf maande lank seermaak. Dit sal wees soos skerpioene wat hulle die hele tyd steek en dít gaan so seer wees dat die mense allerhande planne sal maak om hulleself dood te maak.
6 Maar hulle planne sal nie uitwerk nie. Hoe hard hulle ook al probeer, die dood sal soos wind deur hulle grypende vingers glip.
7 Die sprinkane het soos perde gelyk wat spesiaal vir oorlog reggemaak is. Hulle gesigte het soos dié van mense gelyk. Op hulle koppe was iets wat gelyk het soos die goue kroon wat mense kry wat ’n kompetisie gewen het.